Acts of Union 1707

Vlag van die Koninkryk van Groot-Brittanje (Union Vlag)
Vlag van Engeland
Vlag van Skotland

Die Acts of Union 1707 (Uniewette) was twee Parlementêre Wette wat in 1706 en 1707 deur onderskeidelik die Parlement van Engeland en die Parlement van Skotland aanvaar is. Die wette het die Treaty of Union (Verdrag van Vereniging) wat tussen die twee state onderhandel is, geïmplementeer. Die wette het op 1 Mei 1707 van krag geword.

Die wette het 'n nuwe staat geskep, die Koninkryk van Groot-Brittanje, deur die Koninkryk van Engeland en die Koninkryk van Skotland saam te smelt. Die lande het reeds sedert die Union of the Crowns (Unie van die Krone) in 1603 'n monarg gedeel, maar het tot met die vankragwording van die Uniewette soewereine parlemente gehandhaaf. Wallis was reeds sedert die aanvaarding van die Laws in Wales Acts 1535 and 1542 deel van die Engelse staat. Die Crown of Ireland Act 1542, was 'n wet van die Ierse parlement wat bepaal het dat koning Hendrik VIII van Engeland en sy opvolgers ook die Konings van Ierland sou wees. Eers in 1800 sou die Act of Union 1800 die Koninkryk van Ierland en die Koninkryk van Groot-Brittanje verenig om die Verenigde Koninkryk van Groot-Brittanje en Ierland te vorm.

Die Acts of Union 1707 het die parlemente in Skotland en Engeland ontbind en dit vervang met 'n nuwe Parlement van Groot-Brittanje, gesetel te Westminster, die voormalige tuiste van die Engelse Parlement. Daar word na die samesmelting as die Union of the Parliaments verwys.


© MMXXIII Rich X Search. We shall prevail. All rights reserved. Rich X Search